1 EN daarna gaan Moses en Aäron en sê vir Farao: So spreek die Here, die God van Israel: Laat my volk trek, dat hulle vir My ’n fees kan hou in die woestyn.
2 Maar Farao antwoord: Wie is die Here na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die Here nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie.
3 Toe sê hulle: Die God van die Hebreërs het ons ontmoet; laat ons tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die Here onse God offer, sodat Hy ons nie tref met die pes of die swaard nie.
4 Maar die koning van Egipte antwoord hulle: Moses en Aäron, waarom hou julle die volk van hulle werk af? Loop na julle werk toe.
5 Verder het Farao gesê: Kyk, die volk van die land is alreeds baie; en julle wil hulle laat ophou met hulle werk?