1 EN die Here het aan Moses gesê: Kyk, Ek stel jou as ’n god vir Farao, en jou broer Aäron sal jou profeet wees.
2 Jý moet spreek alles wat Ek jou beveel, en jou broer Aäron moet met Farao spreek, sodat hy die kinders van Israel uit sy land laat uittrek.
3 En Ék sal Farao se hart verhard en my tekens en wonders in Egipteland vermenigvuldig.
4 Maar Farao sal na julle nie luister nie; en Ek sal my hand op Egipte lê en my leërskare, my volk, die kinders van Israel, deur groot strafgerigte uit Egipteland uitlei.
5 Dan sal die Egiptenaars weet dat Ek die Here is, as Ek my hand oor Egipte uitstrek en die kinders van Israel tussen hulle uitlei.
6 Moses en Aäron het toe gedoen soos die Here hulle beveel het; so het hulle gedoen.