14 TOE sê die Here vir Moses: Farao se hart is verhard; hy weier om die volk te laat trek.
15 Gaan môre vroeg na Farao toe — kyk, hy sal uitgaan na die water; staan dan aan die kant van die Nyl om hom te ontmoet; en neem die staf wat in ’n slang verander het, in jou hand,
16 en sê vir hom: Die Here, die God van die Hebreërs, het my na u gestuur met die boodskap: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien in die woestyn. Maar kyk, u het tot nou toe nie geluister nie.
17 So spreek die Here: Hieraan sal jy weet dat Ek die Here is. Kyk, ek sal met die staf wat in my hand is, op die water slaan wat in die Nyl is, en dit sal in bloed verander word.
18 En die visse in die Nyl sal doodgaan, sodat die Nyl sal stink. En die Egiptenaars sal vergeefs trag om die water uit die Nyl te drink.
19 Verder het die Here met Moses gespreek: Sê vir Aäron: Neem jou staf en steek jou hand uit oor die waters van die Egiptenaars, oor hulle strome, hulle kanale, hulle waterkuile en oor al hulle versamelplekke van water, sodat dit bloed word: daar sal bloed in die hele Egipteland wees, ook in hout — en in klipbakke.
20 Moses en Aäron het toe so gedoen soos die Here beveel het — hy het die staf opgehef en die water wat in die Nyl was, geslaan voor die oë van Farao en voor die oë van sy dienaars; en al die water in die Nyl is in bloed verander.