21 Want as jy my volk nie laat trek nie, kyk, dan stuur Ek teen jou en teen jou dienaars en teen jou volk en teen jou huise die steekvlieë, sodat die huise van die Egiptenaars vol steekvlieë sal wees, en selfs die grond waar hulle op staan.
22 Maar Ek sal op dié dag met die land Gosen, waarin my volk woon, ’n uitsondering maak, dat daar geen steekvlieë sal wees nie; sodat jy kan weet dat Ek die Here is in die land.
23 En Ek sal ’n verlossing stel tussen my volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind.
24 En die Here het so gedoen: dik swerms steekvlieë het in die huis van Farao en in die huis van sy dienaars en in die hele Egipteland gekom; die land is deur die steekvlieë verwoes.
25 Toe laat Farao Moses en Aäron roep en sê: Gaan heen, offer aan julle God in die land.
26 Maar Moses antwoord: Dit is nie reg om so te doen nie; want wat ons aan die Here onse God offer, is ’n gruwel vir die Egiptenaars. As ons iets wat ’n gruwel is vir die Egiptenaars, voor hulle oë offer, sal hulle ons dan nie stenig nie?
27 Laat ons drie dagreise ver die woestyn intrek, dat ons aan die Here onse God kan offer soos Hy ons sal beveel.