7 Farao het toe gestuur, en kyk, van die vee van die Israeliete was daar nie een dood nie! Maar die hart van Farao was verhard, en hy het die volk nie laat trek nie.
8 VERDER het die Here aan Moses en Aäron gesê: Neem julle twee hande vol roet uit die oond, en laat Moses dit na die hemel uitstrooi voor die oë van Farao;
9 en dit sal fyn stof word oor die hele Egipteland en aan mense en diere swere veroorsaak wat in blare uitbreek, in die hele Egipteland.
10 So het hulle dan roet uit die oond geneem en voor Farao gaan staan, en Moses het dit na die hemel uitgestrooi. Toe word dit swere wat uitbreek in blare aan mense en diere.
11 En die towenaars kon voor Moses nie staan vanweë die swere nie. Want die swere was aan die towenaars en al die Egiptenaars.
12 Maar die Here het Farao se hart verhard, sodat hy nie na hulle geluister het nie, soos die Here aan Moses gesê het.
13 VERDER het die Here aan Moses gesê: Maak jou môre vroeg klaar en stel jou voor Farao en sê vir hom: So spreek die Here, die God van die Hebreërs: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.