1 EN die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde.
2 En toe hulle wegtrek na die ooste, vind hulle ’n laagte in die land Sínear; en daar het hulle gaan woon.
3 Daarop sê hulle vir mekaar: Kom laat ons stene vorm en dit goed brand. Hulle gebruik toe die bakstene vir bousteen en die lymgrond vir klei.
4 En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ’n stad bou en ’n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ’n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.
5 Toe daal die Here neer om die stad en die toring te besien waaraan die mensekinders gebou het.
6 En die Here sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie.
7 Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie.