12 ’n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte. Die wat in jou huis gebore is, en die wat van enige vreemdeling met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie —
13 die wat in jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny word. So moet dan my verbond in julle vlees wees as ’n ewige verbond.
14 En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie — dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond verbreek.
15 Verder het God aan Abraham gesê: Sarai, jou vrou, moet jy nie Sarai noem nie, maar haar naam sal Sara wees.
16 En Ek sal haar seën en jou uit haar ook ’n seun gee; ja, Ek sal haar seën, sodat sy tot nasies sal word; konings van volke sal uit haar voortkom.
17 Toe val Abraham op sy aangesig, en hy lag en sê in sy hart: Kan daar vir een wat honderd jaar oud is, ’n kind gebore word? Of kan Sara, wat negentig jaar oud is, baar?
18 En Abraham sê aan God: Ag, mag Ismael lewe voor u aangesig!