27 met die woorde: Geloofd sy die Here, die God van Abraham, my heer, wat sy goedertierenheid en sy trou aan my heer nie onttrek het nie. Wat my aangaan, die Here het my op die weg gelei na die huis van die broers van my heer.
28 Daarna het die dogter geloop en in die huis van haar moeder vertel wat daar gebeur het.
29 En Rebekka het ’n broer gehad met die naam van Laban, en Laban het uitgeloop na die man buite by die fontein.
30 Want toe hy die ring en die armbande aan die hande van sy suster sien en die woorde van sy suster Rebekka hoor, naamlik: So het die man met my gespreek — het hy na die man gegaan, terwyl hy nog daar staan by die kamele by die fontein,
31 en gesê: Kom in, geseënde van die Here! Waarom staan jy buitekant terwyl ek die huis reggemaak het en ook plek vir die kamele?
32 En die man het in die huis ingekom — die kamele is afgesaal en vir die kamele is strooi en voer gegee, en water om sy voete te was en die voete van die manne wat by hom was.
33 Daarop het hulle ete voor hom neergesit; maar hy het gesê: Ek sal nie eet voordat ek my saak voorgedra het nie. En hy antwoord: Spreek maar.