32 Die een by wie u u gode vind — hy mag nie lewe nie! Ondersoek wat by my is, in teenwoordigheid van ons broers, en neem dit vir u. Maar Jakob het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie.
33 Toe gaan Laban in die tent van Jakob en in die tent van Lea en in die tent van die twee slavinne, maar hy het niks gekry nie; en toe hy uit die tent van Lea uitgaan, kom hy in die tent van Ragel.
34 Maar Ragel het die huisgode geneem en dit in die kameelsaal weggepak en daarop gaan sit. En Laban het die hele tent deurgevoel, maar niks gekry nie.
35 Daarop sê sy vir haar vader: My heer moet nie baie kwaai kyk nie, omdat ek nie vir u kan opstaan nie; want dit gaan met my volgens die reël van die vroue. En hy het gesoek maar die huisgode nie gekry nie.
36 Toe word Jakob kwaad, en hy het met Laban getwis; en Jakob het geantwoord en vir Laban gesê: Wat is my oortreding, wat is my sonde, dat u my so vurig agternagesit het?
37 Nou dat u al my goed deurgevoel het — wat het u van al u huisraad gevind? Sit dit hier neer voor my broers en u broers, en laat hulle oordeel tussen ons twee.
38 Twintig jaar was ek nou by u. U skaap- en bokooie het geen misdrag gehad nie, en die ramme van u kleinvee het ek nie geëet nie.