7 Toe het Jakob baie bevrees en benoud geword, en hy het die mense wat by hom was, sowel as die kleinvee en beeste en kamele in twee laers verdeel;
8 want hy het gedink: As Esau op die een laer afkom en dit verslaan, sal die laer wat oorbly, vryraak.
9 En Jakob het gesê: o God van my vader Abraham en God van my vader Isak, o Here, wat my beveel het: Gaan terug na jou land en na jou familie, en Ek sal aan jou goed doen —
10 ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan u kneg bewys het; want ek het met my staf oor hierdie Jordaan getrek en nou twee laers geword.
11 Red my tog uit die hand van my broer, uit die hand van Esau, want ek is bang vir hom, dat hy sal kom en my doodslaan, die moeder saam met die kinders.
12 U het tog self gesê: Ek sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see wat vanweë die menigte nie getel kan word nie.
13 En hy het die nag daar oorgebly en van wat in sy besit was, ’n geskenk geneem vir sy broer Esau: