5 En toe hulle weggetrek het, kom daar ’n skrik van God op die stede rondom hulle, sodat hulle die seuns van Jakob nie agternagejaag het nie.
6 So het Jakob dan in Lus aangekom wat in die land Kanaän is — dit is Bet-el — hy en al die mense wat by hom was,
7 en hy het daar ’n altaar gebou en die plek El Bet-el genoem, omdat God daar aan hom geopenbaar is toe hy vir sy broer gevlug het.
8 En Debóra, die oppasser van Rebekka, het gesterwe, en sy is begrawe onderkant Bet-el, onder die eikeboom. En hulle het dit genoem: Eik van geween.
9 Toe verskyn God weer aan Jakob, by sy terugkoms uit Paddan-Aram, en Hy seën hom;
10 en God sê vir hom: Jou naam is Jakob; jy sal verder nie Jakob genoem word nie, maar Israel sal jou naam wees. En Hy het hom Israel genoem.
11 Verder sê God vir hom: Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. ’n Nasie, ja, ’n menigte van nasies, sal van jou afstam, en konings sal uit jou lendene voortkom.