8 En Debóra, die oppasser van Rebekka, het gesterwe, en sy is begrawe onderkant Bet-el, onder die eikeboom. En hulle het dit genoem: Eik van geween.
9 Toe verskyn God weer aan Jakob, by sy terugkoms uit Paddan-Aram, en Hy seën hom;
10 en God sê vir hom: Jou naam is Jakob; jy sal verder nie Jakob genoem word nie, maar Israel sal jou naam wees. En Hy het hom Israel genoem.
11 Verder sê God vir hom: Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. ’n Nasie, ja, ’n menigte van nasies, sal van jou afstam, en konings sal uit jou lendene voortkom.
12 En die land wat Ek aan Abraham en Isak gegee het, sal Ek aan jou gee; en aan jou nageslag ná jou sal Ek die land gee.
13 Toe het God van hom af opgevaar op die plek waar Hy met hom gespreek het.
14 En Jakob het ’n gedenksteen opgerig op die plek waar Hy met hom gespreek het, ’n gedenksteen van klip, en daarop ’n drankoffer uitgegiet en olie daarop gegooi.