21 Toe Ruben dit hoor, het hy hom uit hulle hand gered deur te sê: Laat ons hom nie doodslaan nie.
22 Ruben het ook vir hulle gesê: Moenie bloed vergiet nie; gooi hom in hierdie put wat in die woestyn is, maar moenie die hand aan hom slaan nie — sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te bring.
23 En toe Josef by sy broers kom, trek hulle Josef se rok uit, die rok met lang moue wat hy aangehad het,
24 en hulle neem hom en gooi hom in die put. Maar die put was leeg; daar was geen water in nie.
25 Daarna het hulle gaan sit om brood te eet; en toe hulle hul oë opslaan, sien hulle meteens ’n reisgeselskap Ismaeliete wat uit Gílead kom — hulle kamele gelaai met speserye en balsem en gom — op pad om dit na Egipte af te bring.
26 Toe sê Juda aan sy broers: Watter voordeel is dit dat ons ons broer doodmaak en sy bloed verberg?
27 Kom, laat ons hom aan die Ismaeliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees. En sy broers het na hom geluister.