1 EN die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het ’n man verkry met die hulp van die Here.
2 Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het ’n skaapherder geword, en Kain ’n landbouer.
3 En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die Here ’n offer gebring.
4 En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die Here het Abel en sy offer genadig aangesien,
5 maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.
6 En die Here sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang?