14 En Juda het saam met sy broers in die huis van Josef gekom, terwyl hy nog daar was, en hulle het voor hom neergeval op die grond.
15 Daarop sê Josef vir hulle: Wat is dit nou wat julle gedoen het? Weet julle nie dat ’n man soos ek dit ongetwyfeld moet waarneem nie?
16 En Juda antwoord: Wat kan ons aan my heer sê? Wat kan ons spreek? En waarmee kan ons ons regverdig? God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind. Kyk, ons is my heer se slawe, ons sowel as hy by wie die beker gevind is.
17 Maar hy sê: Dit is ver van my om dit te doen; die man by wie die beker gevind is, dié sal my slaaf wees. Maar trek júlle in vrede op na julle vader.
18 Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, my heer, mag u dienaar tog ’n woord spreek voor die ore van my heer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao.
19 My heer het sy dienaars gevra en gesê: Het julle ’n vader of broer?
20 En ons het my heer geantwoord: Ons het ’n ou vader; en daar is ’n jong seun, ’n kind van die ouderdom, maar sy broer is dood; en hy het alleen oorgebly van sy moeder, en sy vader het hom lief.