20 My tent is verwoes, en al my lyne is afgeruk; my kinders het van my af weggegaan, en hulle is daar nie; daar is niemand meer wat my tent uitspan en my tentdoeke opsit nie.
21 Want die herders het dom geword en die Here nie gesoek nie; daarom was hulle nie voorspoedig nie, en hulle hele kudde is verstrooi.
22 Hoor! ’n Gerug. Daar kom dit, en wel ’n groot geraas uit die Noordland, om die stede van Juda ’n woesteny te maak, ’n lêplek van jakkalse.
23 Ek weet, o Here, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.
24 Tugtig my, Here, maar met mate; nie in u toorn, dat U my nie te klein maak nie.
25 Stort u grimmigheid uit oor die nasies wat U nie ken nie, en oor die geslagte wat u Naam nie aanroep nie; want hulle het Jakob opgeëet, ja, hulle het hom opgeëet en hom verteer en sy woning verwoes.