5 As jy met voetgangers loop, maak hulle jou moeg: hoe sal jy dan wedywer met die perde? En in ’n land van vrede voel jy jou veilig: hoe sal jy dan maak in die pronkbosse van die Jordaan?
6 Want ook jou broers en die huis van jou vader, ook hulle het troueloos teen jou gehandel; ook hulle roep jou hardop agterna. Glo hulle nie as hulle vriendelik met jou spreek nie.
7 EK het my huis verlaat, Ek het my erfenis verwerp, Ek het die beminde van my siel in die hand van haar vyande gegee.
8 My erfenis het vir My geword soos ’n leeu in die bos; dit het sy stem teen My verhef; daarom het Ek dit gehaat.
9 Is my erfenis dan vir My ’n bont roofvoël? Is daar roofvoëls rondom teen hom? Kom, maak al die wilde diere van die veld bymekaar, laat hulle kom om te eet.
10 Baie herders het my wingerd verniel, hulle het my stuk land vertrap, hulle het my begeerlike stuk land ’n woeste wildernis gemaak,
11 hulle het dit ’n wildernis gemaak; dit treur voor My, verwoes; die hele land is verwoes, omdat daar niemand is wat dit ter harte neem nie.