1 DIE sonde van Juda is geskrywe met ’n ystergriffel, met ’n diamantpunt; dit is gegrif op die tafel van hulle hart en op die horings van julle altare —
2 telkens as hulle kinders aan hulle altare dink en aan hulle heilige boomstamme by die groen bome, op die hoë heuwels.
3 My berg in die veld, jou rykdom, al jou skatte sal Ek as buit gee saam met jou hoogtes, weens die sonde in jou hele grondgebied.
4 En jy sal uitval — en dit deur jouself — uit jou erfenis wat Ek jou gegee het, en Ek sal jou jou vyande laat dien in ’n land wat jy nie ken nie; want julle het ’n vuur aangesteek in my toorn, tot in ewigheid sal dit brand.
5 So sê die Here: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die Here afwyk.
6 En hy sal wees soos ’n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ’n brakkerige en onbewoonde land.