11 Sê dan nou tog aan die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem dit: So spreek die Here: Kyk, Ek maak onheil gereed teen julle, en Ek dink ’n plan uit teen julle; bekeer julle tog, elkeen van sy verkeerde weg, en maak julle weë en julle handelinge goed.
12 Maar hulle sê: Dit is tevergeefs; want ons sal na ons gedagtes wandel, en ons sal elkeen volgens die verhardheid van sy bose hart handel.
13 Daarom, so spreek die Here: Vra tog onder die volke: Wie het sulke dinge gehoor? Die jonkvrou van Israel het ’n baie afskuwelike ding gedoen.
14 Verdwyn die sneeu van die Líbanon ooit van die rots in die veld? Of droog die uitlandse, koue, stromende waters op?
15 Nogtans het my volk My vergeet, hulle laat rook opgaan vir die nietige afgode; dié het hulle laat struikel op al hul weë, op die ou paaie, om te loop op sypaaie, ’n ongemaakte pad;
16 om hulle land te maak ’n voorwerp van verbasing, van bespotting vir ewig. Elkeen wat daar verbytrek, sal hom verbaas en sy hoof skud.
17 Soos ’n oostewind sal Ek hulle verstrooi voor die vyand; met die nek, en nie met die aangesig nie, sal Ek hulle aankyk in die dag van hulle ondergang.