8 maar: So waar as die Here leef wat die geslag van die huis van Israel laat optrek en laat kom het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het. En hulle sal woon in hulle land.
9 WAT die profete betref — my hart is gebreek in my binneste, my hele gebeente sidder; ek is soos ’n dronk man en soos ’n man wat deur die wyn oorweldig is, vanweë die Here en sy heilige woorde.
10 Want die land is vol owerspelers; want die land treur weens die vloek, die weivelde van die woestyn verdor; ja, waar hulle na strewe, is sleg, en waar hulle hul krag in soek, onreg.
11 Want profeet sowel as priester is goddeloos; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die Here.
12 Daarom sal hulle weg vir hulle wees soos glyerige plekke in die donkerheid; hulle sal neergestoot word en daarin val. Want Ek sal onheil oor hulle bring in die jaar van hulle besoeking, spreek die Here.
13 Ek het wel by die profete van Samaría aanstootlike dinge gesien: hulle profeteer deur Baäl en verlei my volk Israel;
14 maar by die profete van Jerusalem het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens, en hulle versterk die hande van die kwaaddoeners, sodat hulle hul nie bekeer elkeen van sy boosheid nie. Hulle het almal vir My geword soos Sodom, en sy inwoners soos Gomorra.