33 En die wat deur die Here verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees.
34 Huil, o herders, en skreeu, en wentel julle in die as, julle maghebbers van die kudde; want vol is julle dae om geslag te word, en Ek sal julle verbrysel, en julle sal val soos ’n kosbare voorwerp.
35 Dan sal daar geen toevlug wees vir die herders en geen ontkoming vir die maghebbers van die kudde nie.
36 Hoor! Geskreeu van die herders en gehuil van die maghebbers van die kudde, omdat die Here hulle kudde verwoes.
37 En die weivelde van vrede word verwoes weens die toorngloed van die Here.
38 Hy het soos ’n jong leeu sy lêplek verlaat; want hulle land het ’n woesteny geword weens die gewelddadige swaard, ja, weens sy toorngloed.