1 IN die begin van die regering van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda, het hierdie woord van die Here gekom:
2 So sê die Here: Gaan staan in die voorhof van die huis van die Here, en spreek tot al die stede van Juda wat kom om te aanbid in die huis van die Here, al die woorde wat Ek jou beveel het om aan hulle te sê; laat geen woord weg nie.
3 Miskien sal hulle luister en hulle bekeer elkeen van sy verkeerde weg; dan sal Ek berou hê oor die onheil wat Ek van plan is om hulle aan te doen weens die boosheid van hulle handelinge.
4 Sê dan vir hulle: So spreek die Here: As julle na My nie luister nie, om in my wet te wandel wat Ek julle voorgehou het,
5 om te luister na die woorde van my knegte, die profete, wat Ek na julle stuur, vroeg én laat, sonder dat julle geluister het,
6 dan sal Ek hierdie huis maak soos Silo, en hierdie stad sal Ek maak ’n vervloeking vir al die nasies van die aarde.