1 IN dié tyd, spreek die Here, sal Ek vir al die geslagte van Israel ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.
2 So sê die Here: Die volk van diegene wat van die swaard vrygeraak het, het genade gevind in die woestyn, op weg om sy rus te geniet, naamlik Israel.
3 Die Here het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.
4 Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel! Jy sal jou weer versier met jou tamboeryne en uittrek in die koordans van die spelers.