11 En toe die leër van die Chaldeërs van Jerusalem af opgetrek het vanweë die leër van Farao,
12 wou Jeremia Jerusalem verlaat om in die land Benjamin te gaan, om daar te midde van die volk ’n erfdeel in ontvangs te neem.
13 Toe hy in die Benjaminspoort kom, was daar ’n voorman van die wag met die naam Jiría, die seun van Selémja, die seun van Hanánja; en hy het die profeet Jeremia gevang, met die woorde: Jy wil na die Chaldeërs oorloop!
14 Maar Jeremia het gesê: Leuens! Ek wil nie na die Chaldeërs oorloop nie. Maar hy het na hom nie geluister nie, en Jiría het Jeremia gevang en hom by die vorste gebring.
15 En die vorste het vir Jeremia baie kwaad geword en hom geslaan en hom in die gevangenis gesit in die huis van die skrywer Jónatan; want hulle het daar ’n gevangenis van gemaak.
16 Toe Jeremia in die kerker en in die gewelwe kom en Jeremia daar baie dae gebly het,
17 het koning Sedekía gestuur en hom laat haal; en die koning het hom in sy huis in die geheim gevra en gesê: Is daar ’n woord van die Here? Toe antwoord Jeremia: Ja. Ook sê hy: U sal in die hand van die koning van Babel oorgelewer word.