2 Maar hy het nie geluister, hy en sy dienaars en die volk van die land, na die woorde van die Here wat Hy deur die diens van die profeet Jeremia gespreek het nie.
3 Nogtans het koning Sedekía met Jugal, die seun van Selémja, en Sefánja, die seun van Maäséja, die priester, die profeet Jeremia laat weet: Bid tog tot die Here onse God vir ons.
4 Toe het Jeremia nog in- en uitgegaan onder die volk, en hulle het hom nog nie in die gevangenis gesit nie.
5 Ook het die leër van Farao uit Egipte uitgetrek; en toe die Chaldeërs wat besig was om Jerusalem te beleër, die tyding aangaande hulle hoor, het hulle van Jerusalem af opgetrek.
6 Daarop kom die woord van die Here tot die profeet Jeremia en sê:
7 So spreek die Here, die God van Israel: So moet julle sê aan die koning van Juda wat julle na My gestuur het om My te raadpleeg: Kyk, die leër van Farao wat uitgetrek het om julle te help, sal teruggaan na sy land, na Egipte toe;
8 en die Chaldeërs sal terugkom en teen hierdie stad oorlog voer en dit inneem en dit met vuur verbrand.