2 Toe het Ismael, die seun van Netánja, opgestaan en die tien manne wat by hom was, en hulle het Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, met die swaard verslaan. So het hy hom dan gedood wat die koning van Babel oor die land aangestel het.
3 Ook het Ismael al die Jode verslaan wat by hom, by Gedálja, in Mispa was, en die Chaldeërs, die krygsmanne, wat daar te vinde was.
4 En op die tweede dag, nadat hy Gedálja gedood het, sonder dat dit nog bekend was,
5 kom daar manne van Sigem, van Silo en van Samaría, tagtig man, met afgeskeerde baard en geskeurde klere, wat hulleself stukkend gekerwe het; en spysoffer en wierook was in hulle hand om dit na die huis van die Here te bring.
6 Daarop gaan Ismael, die seun van Netánja, hulle tegemoet uit Mispa, terwyl hy aldeur loop en huil; en toe hy hulle teëkom, sê hy vir hulle: Kom na Gedálja, die seun van Ahíkam!
7 Maar toe hulle binne-in die stad kom, het Ismael, die seun van Netánja, hulle gedood en in die put gegooi, hy en die manne wat by hom was.
8 Maar onder hulle was daar tien man wat vir Ismael gesê het: Maak ons nie dood nie, want ons het verborge voorrade in die veld: koring en gars en olie en heuning. Toe het hy daarvan afgesien en hulle nie saam met hulle broers gedood nie.