1 TOE het al die owerstes van die leërs aangekom, naamlik Jóhanan, die seun van Karéag, en Asárja, die seun van Hosája, en die hele volk, klein en groot,
2 en aan die profeet Jeremia gesê: Laat ons smeking tog voor u kom en bid tot die Here u God vir ons, vir hierdie hele oorblyfsel — want ons het as ’n klein klompie uit baie oorgebly, soos u oë ons sien —
3 dat die Here u God ons bekend mag maak die pad wat ons moet trek, en die saak wat ons moet doen.
4 En die profeet Jeremia het hulle geantwoord: Ek hoor; kyk, ek sal tot die Here julle God bid volgens julle woorde; en alles wat die Here julle antwoord, sal ek julle bekend maak; ek sal vir julle niks agterhou nie.
5 Toe sê hulle vir Jeremia: Laat die Here ’n waaragtige en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie stip handel ooreenkomstig elke woord waarmee die Here u God u na ons sal stuur nie.