13 Maar as julle sê: Ons wil in hierdie land nie bly nie, sodat julle nie luister na die stem van die Here julle God nie,
14 en sê: Nee, maar ons sal na Egipteland trek waar ons geen oorlog sal sien of basuingeluid sal hoor of honger na brood sal hê nie, en daar wil ons woon —
15 daarom hoor dan nou die woord van die Here, o oorblyfsel van Juda! So sê die Here van die leërskare, die God van Israel: As julle werklik julle aangesig rig om na Egipte te trek en weggaan om daar as vreemdelinge te vertoef,
16 dan sal die swaard waar julle voor vrees, julle daar in Egipteland inhaal; en die honger waar julle voor bang is, sal daar in Egipte kort agter julle aankom, en julle sal daar sterwe.
17 Ja, al die manne wat hulle aangesig gerig het om na Egipte te trek om daar as vreemdelinge te vertoef, sal sterwe deur die swaard, die hongersnood en die pes; en daar sal vir hulle niemand wees wat vryraak of ontvlug van die onheil wat Ek oor hulle bring nie.
18 Want so sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Soos my toorn en my grimmigheid uitgestort is oor die inwoners van Jerusalem, so sal my grimmigheid oor julle uitgestort word as julle na Egipte trek; en julle sal wees ’n voorwerp van verwensing, van verbasing, van vervloeking en van smaad, en julle sal hierdie plek nie meer sien nie.
19 Die Here het oor julle gespreek, o oorblyfsel van Juda: Trek nie na Egipte nie! Weet verseker dat ek julle vandag waarsku.