5 Toe sê hulle vir Jeremia: Laat die Here ’n waaragtige en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie stip handel ooreenkomstig elke woord waarmee die Here u God u na ons sal stuur nie.
6 Laat dit goed of sleg wees — ons sal luister na die stem van die Here onse God na wie ons u stuur, dat dit met ons goed kan gaan as ons luister na die stem van die Here onse God.
7 En aan die einde van tien dae het die woord van die Here tot Jeremia gekom,
8 en hy het Jóhanan, die seun van Karéag, geroep en al die owerstes van die leërs wat by hom was, en die hele volk, klein en groot,
9 en aan hulle gesê: So spreek die Here, die God van Israel, na wie julle my gestuur het om julle smeking eerbiediglik voor sy aangesig te bring:
10 As julle rustig in hierdie land bly, sal Ek julle bou en nie afbreek nie, en julle plant en nie uitruk nie; want Ek het berou oor die onheil wat Ek julle aangedoen het.
11 Vrees nie vir die koning van Babel vir wie julle bang is nie; wees nie vir hom bevrees nie, spreek die Here, want Ek is met julle om julle te verlos en julle uit sy hand te red.