35 En Ek sal in Moab ’n einde maak, spreek die Here, aan hom wat op die hoogte offer en rook laat opgaan vir sy god.
36 Daarom klaag my hart oor Moab soos fluite, ja, my hart klaag oor die manne van Kir-Heres soos fluite; omdat die oorwins wat hulle verwerf het, verlore gegaan het.
37 Want al die hoofde is kaal en al die baarde is afgeskeer; op al die hande is snye en om die heupe is ’n roukleed.
38 Op al die dakke van Moab en op sy pleine is net rouklag, want Ek het Moab verbreek soos ’n ding waar ’n mens geen behae in het nie, spreek die Here.
39 Hoe is hy verslae! Hulle huil. Hoe het Moab die rug gedraai met skaamte! So sal Moab dan vir almal wat rondom hom is, ’n belagging en ’n verskrikking word.
40 Want so sê die Here: Kyk, hy sal vlieg soos ’n arend en sal sy vleuels oor Moab uitsprei.
41 Die stede is ingeneem, en die bergvestings is verower; en die hart van die helde van Moab sal in dié dag wees soos die hart van ’n vrou wat in nood is.