3 Huil, o Hesbon, want Ai is verwoes; skreeu, o dogters van Rabba! Omgord julle met rouklere, hef ’n rouklag aan en swerf rond tussen die klipmure; want Milkom sal in ballingskap gaan, sy priesters en sy vorste almal saam.
4 Wat roem jy op die dale, op die oorvloed van jou dal, o afkerige dogter, wat op jou voorrade vertrou en sê: Wie sal aan my kom?
5 Kyk, Ek bring vrees oor jou vir almal wat rondom jou is, spreek die Here Here van die leërskare; en julle sal weggedryf word, elkeen reg voor hom uit, sonder dat iemand die swerwelinge vergader.
6 Maar daarna sal Ek die lot van die kinders van Ammon verander, spreek die Here.
7 OOR Edom. So sê die Here van die leërskare: Is daar geen wysheid meer in Teman nie? Ontbreek raad by die verstandiges? Is hulle wysheid uitgeput?
8 Vlug, draai om, skuil diep weg, o inwoners van Dedan! Want Ek het die ondergang van Esau oor hom gebring, die tyd dat Ek oor hom besoeking doen.
9 As daar druiwesnyers na jou kom, sal hulle geen na-oes laat oorbly nie; of diewe in die nag — hulle sal verniel totdat hulle genoeg het.