11 Al is julle verheug, al jubel julle, plunderaars van my erfenis, al huppel julle soos ’n vers wat graan dors, en runnik julle soos die hingste —
12 julle moeder staan grootliks beskaamd; sy wat julle gebaar het, is rooi van skaamte. Kyk, sy is die agterste van die nasies, ’n woestyn, ’n dor land en ’n wildernis.
13 Weens die toorn van die Here sal dit nie bewoon word nie, maar geheel en al ’n wildernis wees; elkeen wat by Babel verbygaan, sal verbaas wees en spot oor al sy plae.
14 Stel julle op teen Babel rondom, julle almal wat die boog span! Beskiet hom, spaar die pyle nie! Want hy het teen die Here gesondig.
15 Juig oor hom rondom — hy het hom oorgegee, sy pilare het geval, sy mure is afgebreek; want dit is die wraak van die Here; wreek julle op hom, doen aan hom soos hy gedoen het!
16 Roei uit Babel uit die saaier en die wat die sekel hanteer in die oestyd; laat hulle vanweë die verdrukkende swaard elkeen na sy volk omdraai en elkeen na sy land vlug!
17 Israel is ’n rondgejaagde skaap wat die leeus weggedrywe het; eers het die koning van Assur hom opgeëet, en nou ten laaste het Nebukadrésar, die koning van Babel, sy gebeente afgeknaag.