41 Kyk, daar kom ’n volk uit die Noorde, en ’n groot nasie en magtige konings word opgewek uit die agterhoeke van die aarde.
42 Boog en lans hanteer hulle; hulle is wreed en sonder barmhartigheid; hulle geluid bruis soos die see, en hulle ry op perde, gewapend soos ’n man vir die oorlog, teen jou, o dogter van Babel!
43 Die koning van Babel het die gerug van hulle gehoor, en sy hande het slap geword; benoudheid het hom aangegryp, smart soos van een wat baar.
44 Kyk, soos ’n leeu uit die pronkbosse van die Jordaan sal daar een optrek teen die vaste woning; want in ’n oomblik sal Ek hulle daaruit wegjaag, en hom wat uitgekies is, sal Ek daaroor aanstel. Want wie is soos Ek? En wie sal My dagvaar? En wie is tog ’n herder wat voor my aangesig kan standhou?
45 Daarom, hoor die raadsbesluit van die Here wat Hy teen Babel geneem en sy planne wat Hy teen die land van die Chaldeërs beraam het: Waarlik, die kleinstes van die kudde sal weggesleep word; waarlik, hulle weiveld sal oor hulle verslae wees.
46 Van die tyding: Babel is ingeneem! bewe die aarde, en geskreeu word onder die nasies gehoor.