9 En hy antwoord hulle: Ek is ’n Hebreër, en ek vrees die Here, die God van die hemel, wat die see en die droë land gemaak het.
10 Toe word die manne baie bang en sê vir hom: Wat het jy nou gedoen! Want die manne het geweet dat hy van die aangesig van die Here af wegvlug; want hy het hulle dit te kenne gegee.
11 Verder sê hulle vir hom: Wat moet ons met jou doen, sodat die see om ons heen kan bedaar? — want die see het hoe langer hoe onstuimiger geword.
12 En hy antwoord hulle: Neem my en gooi my in die see; dan sal die see om julle heen bedaar; want ek weet dat om my ontwil hierdie groot storm oor julle gekom het.
13 Nogtans het die manne geroei om die skip weer land toe te bring; maar hulle kon nie, omdat die see hoe langer hoe onstuimiger teen hulle geword het.
14 Toe roep hulle tot die Here en sê: Ag, Here, laat ons tog nie vergaan weens die lewe van hierdie man nie, en bring geen onskuldige bloed oor ons nie; want U, Here, het gedoen na u welbehae.
15 En hulle het Jona geneem en hom in die see gegooi. En die see het stil geword van sy onstuimigheid.