17 Toe aan Josua geboodskap en gesê is: Die vyf konings is gevind: hulle kruip weg in die spelonk by Makkéda —
18 het Josua gesê: Rol groot klippe teen die ingang van die spelonk en stel manne daarby aan om hulle te bewaak.
19 Maar julle, moenie bly staan nie; jaag julle vyande agterna en sny hulle agterhoede af; laat hulle nie toe om in hul stede in te kom nie, want die Here julle God gee hulle in julle hand.
20 En toe Josua en die kinders van Israel hulle heeltemal verslaan het met ’n baie groot slag totdat hulle vernietig was, en enkele uit hulle vrygeraak en in die versterkte stede ingegaan het,
21 het al die manskappe by die laer, by Josua behoue teruggekom in Makkéda; niemand het teen die kinders van Israel sy tong verroer nie.
22 Daarop sê Josua: Maak oop die ingang van die spelonk en bring hierdie vyf konings uit die spelonk uit na my toe.
23 Hulle het so gedoen en dié vyf konings uit die spelonk na hom gebring: die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis, die koning van Eglon.