1 EN toe Josua oud en ver op sy dae was, het die Here vir hom gesê: Jy is oud en ver op jou dae, en daar het nog ’n baie groot stuk land oorgebly om in besit te neem.
2 Dit is die land wat oorgebly het: Al die landstreke van die Filistyne en al die Gesuriete,
3 van die Sihor aan die kant van Egipte af tot by die grens van Ekron na die noorde, wat as Kanaänities gereken word; die vyf vorste van die Filistyne: dié van Gasa en dié van Asdod, dié van Áskelon, dié van Gat en dié van Ekron, en die Awiete
4 in die suide; die hele land van die Kanaäniete en Méara wat aan die Sidoniërs behoort, tot by Afek, tot by die grens van die Amoriete;
5 en die land van die Gibliete en die hele Líbanon aan die oostekant, van Baäl-Gad af, onderaan die berg Hermon, tot by die ingang na Hamat.
6 Al die bewoners van die gebergte, van die Líbanon af tot by Mísrefot-Maim, al die Sidoniërs — Ek self sal hulle voor die kinders van Israel uit verdrywe; laat dit net as erfdeel aan Israel val soos Ek jou beveel het.
7 Verdeel dan nou hierdie land as erfdeel onder die nege stamme en die halwe stam van Manasse.