22 Die God van die gode, die Here, die God van die gode, die Here, Hy weet dit; en ook Israel mag dit weet: As dit deur opstandigheid of deur troubreuk teen die Here is — verlos ons nie vandag nie, Here ! —
23 dat ons ’n altaar vir ons gebou het om van die Here afvallig te word; en as dit is om daarop ’n brandoffer en spysoffer te bring of om daarop dankoffers te berei, dan mag die Here self dit wreek.
24 Maar waarlik, ons het dit uit ’n sekere besorgdheid gedoen en gesê: Later sou julle kinders met ons kinders kan spreek en sê: Wat het julle te doen met die Here, die God van Israel?
25 Die Here het tog tussen ons en julle, kinders van Ruben en kinders van Gad, die Jordaan as grens gestel; julle het geen deel aan die Here nie; so sal julle kinders dan maak dat ons kinders die Here nie meer vrees nie.
26 Daarom het ons gesê: Laat ons tog dit doen en vir ons die altaar bou, nie vir brandoffer en nie vir slagoffer nie,
27 maar dat dit ’n getuie kan wees tussen ons en julle en ons geslagte ná ons dat ons die diens van die Here sal waarneem voor sy aangesig met ons brandoffers en ons slagoffers en ons dankoffers, sodat julle kinders later nie aan ons kinders kan sê: Julle het geen deel aan die Here nie.
28 En ons het gedink: As hulle dit later aan ons en ons geslagte sou sê, sal ons sê: Kyk na die boustyl van die altaar van die Here wat ons vaders gemaak het, nie vir brandoffer en nie vir slagoffer nie, maar ’n getuie is hy tussen ons en julle.