5 Verder het Josua aan die volk gesê: Heilig julle; want môre sal die Here wonders onder julle doen.
6 En Josua het met die priesters gespreek en gesê: Neem die verbondsark op en trek weg voor die volk uit; toe het hulle die verbondsark opgeneem en voor die volk uit getrek.
7 Daarop sê die Here vir Josua: Vandag sal Ek begin om jou groot te maak voor die oë van die hele Israel, sodat hulle kan weet dat Ek met jou sal wees soos Ek met Moses gewees het.
8 Gee jy dan bevel aan die priesters wat die verbondsark dra, en sê: Net soos julle aan die kant van die water van die Jordaan kom, moet julle in die Jordaan bly staan.
9 Toe sê Josua aan die kinders van Israel: Kom nader hierheen en luister na die woorde van die Here julle God.
10 Verder het Josua gesê: Hieraan sal julle erken dat daar ’n lewende God tussen julle is, en dat Hy sekerlik die Kanaäniete en Hetiete en Hewiete en Feresiete en Girgasiete en Amoriete en Jebusiete voor julle uit sal verdrywe:
11 Kyk, die verbondsark van die Here van die hele aarde trek voor julle uit die Jordaan in.