6 Want veertig jaar lank het die kinders van Israel in die woestyn getrek, totdat die hele volk omgekom het, die krygsmanne wat uit Egipte weggetrek het, wat nie aan die stem van die Here gehoorsaam was nie; vir wie die Here gesweer het dat Hy hulle die land nie sou laat sien wat die Here hulle vaders met ’n eed beloof het om aan ons te gee nie — ’n land wat oorloop van melk en heuning.
7 Maar in hulle plek het Hy hul seuns gestel; dié het Josua besny; want hulle was onbesnede, omdat hulle op pad nie besny is nie.
8 En toe die hele volk klaar besny is, het hulle op hul plek in die laer gebly totdat hulle gesond was.
9 Toe het die Here vir Josua gesê: Vandag het Ek die smaad van Egipte van julle afgewentel. Daarom het hulle dié plek Gilgal genoem tot vandag toe.
10 Terwyl die kinders van Israel by Gilgal gelaer was, het hulle die pasga gehou op die veertiende dag van die maand in die aand, in die vlaktes van Jérigo.
11 En hulle het die dag ná die pasga van die opbrings van die land geëet: ongesuurde brode en gebraaide koring, daardie selfde dag.
12 En die dag nadat hulle van die opbrings van die land geëet het, het die manna opgehou, sodat die kinders van Israel verder geen manna gehad het nie; maar hulle het geëet van die opbrings van die land Kanaän in daardie jaar.