14 Kom dan môre vroeg aan volgens julle stamme; en die stam wat die Here deur die lot aanwys, moet aankom volgens die geslagte; en die geslag wat die Here aanwys, moet aankom volgens die huisgesinne, en die huisgesin wat die Here aanwys, moet aankom man vir man.
15 En hy wat in besit van die bangoed aangewys is, moet met vuur verbrand word, hy met alles wat aan hom behoort, omdat hy die verbond van die Here oortree en ’n skanddaad in Israel begaan het.
16 En Josua het vroeg in die môre klaargemaak en Israel laat aankom volgens sy stamme; en die stam van Juda is aangewys.
17 Toe hy die geslagte van Juda laat aankom, het die lot die geslag van die Sargiete aangewys; toe hy die geslag van die Sargiete laat aankom man vir man, is Sabdi aangewys;
18 toe hy sy huisgesin man vir man laat aankom, is Agan, die seun van Karmi, die seun van Sabdi, die seun van Serag, van die stam van Juda, aangewys.
19 Toe sê Josua vir Agan: My seun, maak tog die Here, die God van Israel, heerlik en gee Hom die eer; en gee my tog te kenne wat jy gedoen het; steek dit nie vir my weg nie.
20 Toe het Agan Josua geantwoord en gesê: Waarlik, ek het gesondig teen die Here, die God van Israel, en so en so het ek gedoen.