3 Toe hulle by Josua terugkom, het hulle vir hom gesê: Al die manskappe hoef nie op te trek nie; omtrent tweeduisend man of omtrent drieduisend kan optrek, en hulle sal Ai verslaan; moenie al die manskappe met ’n tog daarheen vermoei nie, want hulle is daar maar min.
4 So het daar dan van die manskappe omtrent drieduisend man daarnatoe opgetrek; maar hulle moes vlug voor die manne van Ai;
5 en die manne van Ai het uit hulle omtrent ses-en-dertig man doodgeslaan en hulle agtervolg van die poort af tot by Sebárim en hulle verslaan op die afdraand; en die volk se hart het versmelt en soos water geword.
6 Toe het Josua sy klere geskeur en met sy aangesig op die grond geval voor die ark van die Here, tot die aand toe, hy en die oudstes van Israel, en hulle het stof op hul hoofde gegooi.
7 En Josua het gesê: Ag, Here Here, waarom het U hierdie volk ooit deur die Jordaan laat trek om ons oor te gee in die hand van die Amoriete, sodat hulle ons kan vernietig? Het ons tog maar besluit om oorkant die Jordaan te bly!
8 Ag Here, wat sal ek sê nadat Israel vir sy vyande die rug gegee het?
9 En as die Kanaäniete en al die inwoners van die land dit hoor, sal hulle ons omsingel en ons naam van die aarde af uitroei; wat sal U dan vir u grote Naam doen?