9 So het Josua hulle dan uitgestuur, en hulle het getrek na die hinderlaag en gebly tussen Bet-el en Ai, aan die westekant van Ai; maar Josua het dié nag onder die manskappe deurgebring.
10 Die môre vroeg het Josua hom klaargemaak en die manskappe gemonster en opgetrek met die oudstes van Israel, op die voorpunt van die manskappe, na Ai toe.
11 En al die weerbare manskappe wat by hom was, het opgetrek en nader gegaan en teenoor die stad gekom, en hulle het laer opgeslaan aan die noordekant van Ai, sodat die dal tussen hulle en Ai was.
12 So het hy dan omtrent vyfduisend man geneem en hulle in ’n hinderlaag opgestel tussen Bet-el en Ai, aan die westekant van die stad.
13 En hulle het die manskappe opgestel, die hele leër wat noordelik van die stad was, met sy agterhoede aan die westekant van die stad, maar Josua het dieselfde nag die laagte ingetrek.
14 En toe die koning van Ai dit merk, het die manne van die stad hulle in die vroegte gou klaargemaak en uitgetrek om Israel in die geveg te ontmoet, hy en al sy manskappe, op ’n afgesproke plek voor die vlakte; maar hy het nie geweet dat daar vir hom agter die stad ’n hinderlaag lê nie.
15 En Josua en die hele Israel het hul laat verslaan voor hulle en gevlug in die rigting van die woestyn.