1 Alef. AG, hoe verlate sit die stad wat vol mense was! Sy het soos ’n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies; die vorstin onder die provinsies het dienspligtig geword.
2 Bet. Bitterlik ween sy snags — haar trane oor haar wange! Sy het geen trooster onder al haar liefhebbers nie; al haar vriende het troueloos teen haar gehandel, haar vyande geword.
3 Gimel. Juda is ontvolk deur ellende en deur sware diensbaarheid; hy sit onder die nasies, sonder om ’n rusplek te vind; al sy vervolgers het hom ingehaal tussen die engtes in.
4 Dalet. Die weë na Sion treur, omdat daar geen feesgangers is nie; al haar poorte lê woes, haar priesters sug, haar jonkvroue is bedroef, en sy self het dit bitter.