7 Sajin. Jerusalem dink, in die dae van haar ellende en haar omswerwinge, aan al haar kosbaarhede wat gewees het van die dae van die voortyd af. Toe haar volk deur die hand van die teëstander geval het en daar vir haar geen helper was nie, het die teëstanders haar aanskou, hulle het gelag oor haar ongelukkige uiteinde.
8 Get. Jerusalem het swaar gesondig, daarom het sy ’n voorwerp van afsku geword; almal wat haar geëer het, verag haar, omdat hulle haar naaktheid gesien het; sy self sug en het haar weggedraai.
9 Tet. Haar onreinheid kleef aan haar some, sy het aan haar einde nie gedink nie, en sy het wonderbaarlik gesink, sonder dat sy ’n trooster het. Sien my ellende aan, Here, want die vyand hou hom groot.
10 Jod. Die teëstander het sy hand uitgesteek na al haar kosbaarhede; ja, sy het gesien hoedat heidene in haar heiligdom kom, van wie U bevel gegee het dat hulle in u vergadering nie mag kom nie.
11 Kaf. Haar hele bevolking sug, hulle soek brood, hulle het hul kosbaarhede vir voedsel gegee, om hulleself te verkwik. Aanskou, Here, en merk op dat ek ’n veragte geword het.
12 Lamed. Raak dit julle nie, julle almal wat met die pad verbygaan? Aanskou en kyk of daar ’n smart is soos my smart wat my aangedoen is, waarmee die Here my bedroef het op die dag van sy toorngloed.
13 Mem. Uit die hoogte het Hy vuur gestuur in my gebeente en dit oorweldig, Hy het ’n net voor my voet uitgesprei, Hy het my agteruit laat wyk, Hy het my woes gemaak, die hele dag ellendig.