1 EN as iemand aan die Here ’n spysoffer bring, moet sy offer fynmeel wees; en hy moet olie daarop giet en wierook daarby voeg;
2 en hy moet dit na die seuns van Aäron, die priesters, bring; en die priester moet daarvan ’n handvol neem, van die fynmeel met die olie, met al die wierook wat daarby behoort; en hy moet dit as die gedenkoffer op die altaar aan die brand steek, ’n vuuroffer van lieflike geur aan die Here.
3 En wat oorbly van die spysoffer, is vir Aäron en sy seuns, ’n hoogheilige deel van die vuuroffers van die Here.
4 En as jy ’n spysoffer bring wat in die oond gebak is, moet dit fynmeel wees, ongesuurde koeke met olie gemeng, en ongesuurde platkoeke met olie bestryk.
5 En as ’n spysoffer van die bakplaat jou offer is, moet dit fynmeel wees met olie gemeng en ongesuurd.
6 Breek dit in stukkies en giet olie daarop: dit is ’n spysoffer.
7 En as ’n spysoffer uit die pan jou offer is, moet dit van fynmeel met olie berei word.