37 Dit is die feestye van die Here wat julle moet uitroep as heilige vierdae om aan die Here ’n vuuroffer te bring: ’n brandoffer en spysoffer, ’n slagoffer en drankoffers soos vir elke dag voorgeskrywe;
38 behalwe die sabbatte van die Here en behalwe julle gawes en behalwe al julle geloftes en behalwe al julle vrywillige offers wat julle aan die Here gee.
39 Maar op die vyftiende dag van die sewende maand, as julle die opbrings van die land insamel, moet julle die fees van die Here sewe dae lank vier; op die eerste dag is dit rusdag, en op die agtste dag is dit rusdag.
40 En op die eerste dag moet julle vir julle vrugte neem van sierlike bome, met palmtakke en takke van digte bome en rivierwilgers, en sewe dae lank voor die aangesig van die Here julle God vrolik wees.
41 En julle moet dit as fees van die Here sewe dae in die jaar vier. Dit is ’n ewige insetting vir julle geslagte. In die sewende maand moet julle dit vier.
42 Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is, moet in hutte woon,
43 sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het. Ek is die Here julle God.