5 Jy moet ook fynmeel neem en twaalf koeke daarvan bak, twee-tiendes van ’n efa moet elke koek wees;
6 en jy moet hulle in twee stapels neersit, ses in ’n stapel, op die rein tafel voor die aangesig van die Here.
7 En by elke stapel moet jy suiwer wierook byvoeg, wat vir die brood as gedenkoffer moet dien, as vuuroffer aan die Here.
8 Op elke sabbatdag moet hy dit gedurigdeur voor die aangesig van die Here regsit, van die kant van die kinders van Israel as ’n ewige insetting.
9 En dit moet aan Aäron en sy seuns toekom: hulle moet dit in ’n heilige plek eet; want as iets hoogheiligs behoort dit aan hom uit die vuuroffers van die Here — ’n ewige insetting.
10 EN die seun van ’n Israelitiese vrou — maar hy was die seun van ’n Egiptiese man — het uitgegaan tussen die kinders van Israel in; en die seun van die Israelitiese vrou en ’n Israelitiese man het met mekaar geveg in die laer.
11 Toe het die seun van die Israelitiese vrou die Naam gelaster en gevloek. Daarom het hulle hom na Moses gebring. En die naam van sy moeder was Selómit, die dogter van Dibri, van die stam van Dan.