9 En dit moet aan Aäron en sy seuns toekom: hulle moet dit in ’n heilige plek eet; want as iets hoogheiligs behoort dit aan hom uit die vuuroffers van die Here — ’n ewige insetting.
10 EN die seun van ’n Israelitiese vrou — maar hy was die seun van ’n Egiptiese man — het uitgegaan tussen die kinders van Israel in; en die seun van die Israelitiese vrou en ’n Israelitiese man het met mekaar geveg in die laer.
11 Toe het die seun van die Israelitiese vrou die Naam gelaster en gevloek. Daarom het hulle hom na Moses gebring. En die naam van sy moeder was Selómit, die dogter van Dibri, van die stam van Dan.
12 En hulle het hom in die gevangenis gesit, dat hulle ’n beslissing kon verkry volgens die uitspraak van die Here.
13 En die Here het met Moses gespreek en gesê:
14 Bring die vloeker buitekant die laer uit, en almal wat dit gehoor het, moet hulle hande op sy hoof lê; dan moet die hele vergadering hom stenig.
15 En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sy God vloek, sal hy sy sonde dra.