1 VERDER het die Here met Moses gespreek by die berg Sinai en gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land inkom wat Ek julle gee, moet die land ’n sabbat hou vir die Here.
3 Ses jaar lank mag jy jou land saai en ses jaar lank jou wingerd snoei en die opbrings daarvan insamel;
4 maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, ’n sabbat vir die Here; jou land mag jy nie saai en jou wingerd nie snoei nie.
5 Wat van jou oes opslaan, moet jy nie afoes nie, en die druiwe van jou ongesnoeide wingerdstok nie afsny nie. Dit moet ’n jaar van rus vir die land wees.
6 En die opbrings van die sabbat van die land sal julle voedsel wees; vir jou en jou slaaf en jou slavin en jou dagloner en jou bywoner wat by jou vertoef,
7 en vir jou vee en die wild wat in jou land is, sal die hele opbrings daarvan wees om te eet.