17 Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God; want Ek is die Here julle God.
18 En doen my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit, dat julle veilig kan woon in die land.
19 En die land sal sy vrug gee, en julle sal volop eet en veilig daarin woon.
20 En as julle sê: Wat moet ons in die sewende jaar eet as ons nie mag saai nie en ons oes nie mag insamel nie? —
21 dan gebied Ek my seën vir julle in die sesde jaar, en dit sal die oes vir die drie jare oplewer.
22 En in die agtste jaar moet julle saai en van die ou opbrings eet tot die negende jaar toe; totdat die opbrings hiervan inkom, moet julle die oue eet.
23 DIE grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is.